Oor die skrywers

Die reeks het sy oorsprong in die behoefte aan ‘n unieke, nuwe taalprogram vir tuisonderrig, wat nie net belangstelling in taalleer deur middel van innoverende metodes aanwakker nie, maar ook die langtermyn gewenste resultate in terme van kommunikasievermoë in Afrikaans lewer.

Met aanmoediging van vriende in die tuisskoolgemeenskap het tuisonderrig-ma van twee Erika Nöthnagel, vir oud-onderwyseres Leonie Katzke genader met ‘n konsep vir ‘n nuwe Afrikaanse tuisonderrig program.  Leonie beskik oor ‘n BA-graad met Afrikaans, Duits en Sielkunde (Honneurs), ‘n T.H.O.D-diploma en ‘n sertifikaat in Funksionele Terapie.  Met dertig jaar se onderwysondervinding by Afrikaanse sowel as Engelse laerskole en hoërskole, asook dubbelmedium spesiale skole, het sy ‘n geweldige passie en insig vir opvoeding deur middel van taal. Tesame met haar ruim ondervinding in die vakgebied, word haar passie vir die Afrikaanse taal innoverend en kleurvol in die blaaie van die boek uitgebeeld.

Hierdie ma-en-dogter-span se effektiewe dinamika in die skep van die ToetenTaal Afrikaanse Taalkuns-reeks word gedryf deur die motivering om oorspronklik ‘n gepaste program vir Erika se eie kinders te skep – waar hul Ouma met hulle ontwikkeling en taalbehoeftes in gedagte, die struktuur; temas en konsepte van elke boek in die lewe roep.  Erika, met ‘n B.Comm (Informatika) en Nasionale Diploma in Bemarking, bring ‘n praktiese perspektief na die projek en verseker dat die inhoud gebruikersvriendelik vir beide ouer en kind is en dat die reeks toeganklik vir die tuisonderrigmark, of enigeen met ‘n hart daarvoor, is.