Vrae

  1. Is ToetenTaal geakkrediteerby die Departement van Basiese Onderwys (DBO)?

Nuwe tuisskolers wil altyd weet of die program wat hulle vir tuisonderrig wil aanskaf wel ook deur die DBO geakkrediteer is. ToetenTaal is júís nie, en die redes is as volg:

  • Die DBO beskik op hierdie stadium oor geen kriteria om programme wat spesifiek vir tuisonderrig ontwerp is, te evalueer nie.
  • Die Hooggeregshof het beslis dat privaat opvoeders (wat ook tuisskolers insluit) nie die staatskurrikulum hoef te volg nie.
  • ToetenTaal bied doelbewus ‘n alternatiewe benadering tot taalleer omdat die programme wat wel deur die DBO geakkrediteer is, nie altyd ontwerp is met kinders se beste belange as prioriteit nie. Tuisskolers wil programme gebruik wat resultate lewer omdat dit pasgemaak is vir individuele situasies.
  • Om die DBO se goedkeuring te verkry sal die literatuurgebaseerde benadering van die ToetenTaal-reeks moet verander na ‘n tradisionele skool-by-die-huis metodologie. Dit sal die volgende moet insluit:
    • Een boek per graad (almal van ‘n sekere ouderdom moet dieselfde boek doen ongeag van die kind se vermoë). ToetenTaal ontmoet kinders waar hulle is en laat hulle toe om teen hul eie pas te vorder.
    • Fokus is op die ouer wat onderrig gee i.p.v op die kind wat onderrig word. Hierdie skool-by-die-huis benadering lê oopkop-studies aan bande omdat kinders bloot informasie ontvang wat hulle weer in toetse net so moet weergee. ToetenTaal stel kinders aan konsepte en temas bloot, moedig hulle aan om verder te verken en lei hulle om krities te dink en opinies te vorm. Ouers leer saam met hulle kinders.
    • Gereelde, gestandaardiseerde toetse word afgelê wat bepaal of kinders vorder. Omdat ouers betrokke is en saam met hul kinders leer, vind evaluasie deurlopend plaas op ‘n holistiese manier en ouers kan eerstehands bepaal of kinders vorder.

ToetenTaal poog dus nie om onderskryf te word deur die DBO nie omdat dit reeds deur die tuisskoolgemeenskap bekragtig word.


  1. Is die reeks ooreenkomstig met die Kurrikulum- en Assesseringsbeleids-verklaring (KABV)?

Die ToetenTaal-reeks dek ten volle alle komponente van die KABV vir Gr4 – Gr12, maar daar is wel ‘n beduidende verskil in die benadering hoe dit gedoen word. Die ingesteldheid is om met elke boek diep kennis van enkele konsepte op te doen totdat kennis van alle konsepte oor die verloop van die hele reeks (8 boeke) betekenisvol is (in teenstelling met wye maar oppervlakkige kennis wat elke jaar herhaal word).


  1. Hoe weet ek watter boek om te kies?

Die reeks ontmoet kinders waar hulle is en daarom is die boeke nie gekoppel aan grade nie maar eerder aan ouderdom. Elke boek verwag ‘n klein bietjie meer inspanning as die vorige en daarom is dit beter om so naby aan die begin van die reeks te begin as moontlik. Gebruik die lesvoorbeelde en taalbegrippe om te bepaal waar in die reeks jou kind die beste baat sal vind.


  1. Kan ek die boeke hergebruik?

Elke boek is omvattend en is dus ook ‘n werkboek waarin die kind skryf.  Omdat meeste vrae en opdragte nie net een regte antwoord het nie, is elke kind se boek uniek en dit word meer as net ‘n werkboek: dit word ‘n versamelstuk van idees en insigte waarna kinders gereeld terugverwys oor tyd.


  1. Kan ek een boek met meer as een ouderdom op dieselfde tyd doen?

Absoluut! Multivlak-leer is een van die groot doelwitte wat die reeks in gedagte het. Wanneer ‘n gesin saam leer maak dit nie net dinge vir die ouer makliker nie, maar sorg ook vir onvergeetlike familie herinneringe.


  1. Wat anders moet ek nog by doen of koop vir Afrikaans 1ste taal?

Niks!  Een ToetenTaal-boek per kind per jaar is al wat nodig is vir ‘n aansienlike, wesenlike en hoë standaard moedertaal opvoeding. Die boeke is omvattend en sluit absoluut alles in wat ouer en kind benodig.  Elke boek voorsien ‘n lys van ouderdomstoepaslike titels vir fiksie en nie-fiksie. Dit is bloot voorstelle van stories wat gelees en voorgelees kan word om die literatuurgebaseerde benadering te komplimenteer.


  1. Hoeveel tyd neem hierdie program op ‘n daaglikse basis?

Elke gesin en kind is uniek en bepaal self hoe lank aan ‘n les spandeer word, maar ‘n breë riglyn is soos volg:

  • Boek 1 neem 15-30minute, 1-2 dae per week sodat daar baie tyd aan voorlees spandeer kan word op die ander dae van die week.
  • Boek 2 neem 15-30minute, 2-4 dae per week.
  • Boek 3 neem 15-45minute, 3-4 dae per week.
  • Vanaf Boek 4 word daar oor die algemeen 25-45minute, 5 dae per week spandeer.

  1. Kan my kind onafhanklik werk?

Vanaf Boek 5 werk kinders grootendeels onafhanklik omdat dit ‘n vaardigheid is wat oor die vorige paar jaar ontwikkel behoort te word.  Ouerbetrokkenheid word benodig en aangemoedig met Boek 1 – 4 en dit is juis gedurende hierdie stadium wat die vaardigheid ontwikkel om onafhanklik te kan leer.


  1. Is daar ‘n ouergids vir leiding, en word antwoorde voorsien?

Elke boek is omvattend en bevat alles wat ouers nodig het. Geen voorbereiding is nodig nie en daar word ook nie van ouers verwag om “les te gee” nie. ‘n Kort nota en fokuspunt aan die begin van elke les word gegee om die stemming te skep. Die res van die les spreek die leser (kind) direk aan en vereis geen vorige kennis nie. Antwoorde op vrae waarop daar slegs een korrekte antwoord kan wees, verskyn in die antwoordblad.


  1. Kan ek sien hoe die boeke binne lyk voor ek dit koop?

Gaan loer gerus na die lesvoorbeelde en inhoudsopgawe op die BOEKREEKS-skakel onder elke boek, asook ‘n opsomming van die taalbegrippe wat in die boek geleer sal word. Boeke sal ook by sommige tuisskool ekspos beskikbaar wees.


  1. Kan ToetenTaal gebruik word as Afrikaans 2de taal?

Boek 1 aanvaar dat kinders reeds kan praat, lees en skryf in Afrikaans. Dit is nie ‘n klankeprogram nie en dit is nie ‘n program wat Engels-sprekendes kan gebruik om Afrikaans vir die eerste keer aan te leer nie.  Dit kan wel deur Engelse of tweetalige gesinne gebruik word wat reeds Afrikaans magtig is. Cambridge en Edexcel het Afrikaans as 2de taal op IGCSE, A en AS vlakke. ToetenTaal is meer as voldoende om hierdie eksamens suksesvol af te kan lê.


  1. Sal ToetenTaal my kind voorberei vir matriek?

Beslis! ToetenTaal is voldoende om enige van die skoolverlaterseksamens (Cambridge, Edexcel, Nasionale Sertifikaat, IEB) met sukses te slaag. Boek 8 is ‘n konsolidasie van die vorige 7 boeke in die reeks en bevat dus die hele kurrikulum en liggaam van kennis van die Afrikaanse taal soos vereis vir matriekdoeleindes. Nadat kinders Boek 8 voltooi het hoef hulle net eksamenvraestelle uit te werk en te bepaal watter letterkunde voorgeskryf is vir die relevante jaar sodat hulle spesifieke voorbereiding kan doen daarvoor.


  1. Kan my boeke eerder gepos word of met PAXI gestuur word (i.p.v. koerier) om geld te spaar?

As gevolg van die volume wat weekliks gestuur word is dit nie haalbaar om tyd af te staan hiervoor by die poskantoor of Pep nie. Koeriers word al hoe meer bekostigbaar en hul diens is flink en betroubaar. Aramex lewer landwyd binne 24uur af.


  1. Hoe kan ek bestel?

Op die BESTEL-blad is daar ‘n skakel wat ‘n bestelvorm aflaai. Dit bevat al die besonderhede wat nodig is om ‘n bestelling te plaas. Voltooi die bestelvorm en e-pos dit saam met die bewys van betaling.


 

Nothing found

Apologies, but no entries were found.