Description
Boek 1 is oorspronklik ontwikkel vir kinders van 9 – 11 jaar wat al kan lees en skryf, en wat grondslag-Afrikaans onder die knie het. Dit is nie ‘n fonetiese of klankprogram nie en vereis dat leesvaardigheid reeds ontwikkel is. Hierdie eerste boek sal ook geskik wees vir behendige 8-jariges wat gretig lees en skryf, asook vir kinders wat ouer as 11 jaar is en tot op hede nie ‘n formele Afrikaanse program gevolg het nie of wat nog nie entoesiasties lees en skryf nie.
Engelse kinders van ouer as 12 jaar sal moontlik met hierdie boek kan begin wanneer die basiese klanke en lees reeds in plek gestel is, en hul gehoor reeds tot ‘n mate op die ritme en ‘vreemde’ klank van Afrikaans ingestel is sodat die fokus na inhoud en begrip kan verskuif.
Boek 1 gee die toon aan vir die res van die reeks en help gesinne om ‘n toepaslike ingesteldheid aan te neem wat skaar met ‘n literatuurgebaseerde taalprogram. Hierdie literatuurgebaseerde benadering verskil heelwat van ander standaard taalprogramme en Boek 1 poog om as oorbrugging te dien en die verandering in leerstyl te fasiliteer. Leesstukke is omvattend en wesenlik en daar word vereis dat ouers dit meestal aan kinders voorlees en daarna dit saam bespreek. Voorlees en bespreking vorm die kern van literatuurgebaseerde onderrig omdat dit ‘n ryk en aansienlike opvoeding tot gevolg het wat lewenslange leerders kweek.
Bykomend tot Boek 1 word ook ‘n A3 provinsiale kaart van Suid-Afrika verskaf. Hierdie kaart word deurgaans byderhand gehou en kinders maak notas en tekeninge op hul kaart soos wat hulle deur die lesse in ons land rondreis. Daar word in Studieveld C gefokus op die geskiedenis van Afrikaans: die ontstaan en ontwikkeling as amptelike landstaal. Suid-Afrikaanse geskiedenis word deur middel van die taal vertel en ervaar. Hierdie is ‘n onontbeerlike opvoeding vir alle moedertaalsprekers asook diegene wat Afrikaans as taal bestudeer in enige ander kapasiteit
Reviews
There are no reviews yet.